Power Measurement vier hul 25 ste jaar met ’n knal!
In 1996 het Barry Shackleton besluit om sy elektroniese agtergrond te benut, na die Tuinroete te verhuis en ’n agent vir ’n metervervaardiger te word. Om die pot aan die kook te hou het hy oorhoofse lyne vir die munisipaliteite in stand gehou – van pale oprig tot bosse
afmaak – die sakeplan was omvattend en die stories kleurryk!
Neal Douglass het in 1998 by Shackleton en Llewellyn Thomas aangesluit en die geleentheid gesien vir verdere ontwikkeling, toe voorafbetaalde kragvoorsiening teen 2004 in Suid-Afrika bekendgestel is. Die trio entrepreneurs het die maatskappy uitgebrei deur takke in Gauteng en Kaapstad te vestig.
In 2016, met die onderneming se 20ste verjaardagviering, het hulle die leisels oorgegee aan Johan de Klerk en Marietjie Launder, die nuwe direkteure van die maatskappy. Hierdie geleentheid is behoorlik gevier met al die personeel en hul gades tydens ’n naweek vol pret by die Belvidere Manor-hotel in Knysna.
Verjaardagvieringe
Die 25ste verjaardag kan ongelukkig nie so glansryk wees nie, maar die onlangse uittredegeleentheid van die oorspronklike direkteure by die hoofkantoor in George, is wel vasgevang met videoskakels na die verskeie takke. Weens die Covid-19-pandemie is die groot partytjie eers op die ys gesit, maar ter viering van die mylpaal het die personeel wel op Dinsdag 13 April ’n koek-en-fotosessie by die George-tak gehad. Gister het elke tak ’n lekker braai gehou om net ’n bietjie weer as ’n span bymekaar te kom, want die meerderheid van die personeellede werk al ’n jaar van die huis af. “Ons het besluit om Maandag 26 April die kantore te sluit sodat almal ’n heerlike vierdae langnaweek kan hê,” sê Launder.
Dienste
Die toekoms van so ’n dinamiese, stabiele maatskappy is opwindend. Hul portefeulje sluit ’n
wye verskeidenheid oplossings in vir die voorsiening van noodsaaklike basiese dienste vir
krag, water en gas, wat landwyd beskikbaar is. Munisipaliteite baat vandag steeds by hul
kundigheid vir dienste soos grootmaatmeter oudits, maar hul teikenkliëntelys sluit in groot
winkelsentrums, sekuriteitskomplekse, gholflandgoedere, woonstelblokke en plase, tot die
kleiner kliënt wat net ’n voorafbetaalde meter vir hul huurder benodig. Power Measurement verskaf die meters en toerusting direk aan die publiek, gekoppel aan verdere dienste soos meterlesings, heffing van dienste, voorafbetaalde muntoutomaat-platforms, koeponvoorsiening vir plaaseienaars, meter-oudits, energie-ontleding en metering van sonverwekte energie.
“Om saam met die tyd te beweeg is baie belangrik en ons kliënte kan gerus wees dat die produkte en oplossings van die beste gehalte is. Die jare se ondervinding spreek vanself,” sê De Klerk. Launder voeg by dat selfs struikelblokke van die afgelope jaar in die vorm van die pandemie, beurtkrag en die gepaardgaande verswakte ekonomie, hulle nie kan stuit nie. Power Measurement se toegewyde personeel is steeds die hartklop van die maatskappy wat trots basuin: “Meter vir meter, is ons beter!”
Recent posts
Token Identifier (TID) Rollover for all STS Pre-payment meters – The challenge is real
Contact Us
Account Queries:
086 107 6937
George (Head Office):
044 873 0762
Cape Town:
021 556 3810
Johannesburg:
011 026 9514